Die betekenis van die Retief-moord 6 Februarie 1838

Herdenking van die massa-moord op Piet Retief en die res van die Trekker-afvaardiging na Dingaan, koning van die Zoeloes – 6 Februarie 1838: ǹ Les uit die geskiedenis vir hedendaagse Afrikaners.

Op 6 Februarie 2018 herdenk die Afrikanervolk een van die belangrikste gebeurtenisse in sy geskiedenis: Die barbaarse massa-moord op die verkose leier van die Voortrekkers in die stat van Dingaan by Umgungundlovu op 6 Februarie 1838.
Nadat Retief op 2 Februarie 1837 sy beroemde Manifes in die Engelstalige Graham’s Town Journal gepubliseer het sodat daar geen onsekerheid kon wees oor die oorsake en doel van die Groot Trek nie, het hy met sowat 400 mense by die Groot Trek aangesluit. By Thaba Nchu is hy daarna verkies as Goewerneur en Opperbevelhebber van die “Trekkersvolksraad”.
Van Thaba Nchu af het Retief en Gerrit Maritz oorkant die Drakensberge in Natal ǹ plek gaan soek waar hul mense hul kon vestig onder hul eie regering in vreedsame naasbestaan met die ander inheemse volke. In sy Manifes het Retief uitdruklik geskryf (Afrikaanse vertaling van dr. EA Venter): “Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ǹ rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gehad het. Ons sal geen volk molester nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie, maar word ons aangeval, dan sal ons ons ten volle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom te verdedig tot die uiterste toe teen enige vyand” en “Ons stel ons voor om, in die loop van ons trek en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings aan die inboorlingstamme bekend te maak, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.”
Met daardie voorneme het Retief vanaf Oktober 1837 in Natal met die Zoeloe-koning, Dingaan, gaan ondehandel oor die koop van ǹ stuk grond waarop die Trekkers hul kon vestig. Dingaan vereis toe as teenprestasie vir die toekenning van grond aan die Trekkers dat vee wat die hoofman Sekonyela van hom gesteel het en waarvan hy die diefstal toe aan die Voortrekers toegedig het, opgespoor en aan Dingaan terugbesorg word. ǹ Groep Trekkers gaan haal toe die gesteelde vee (volgens sekere bronne 700 beeste en 63 perde) en besorg dit aan Dingaan.
Daarna vertrek Retief, sewentig ander blanke lede van sy trek insluitend sy twaalf-jarige seuntjie (daar was verskeie ander kinders ook in die groep) en dertig Kleurlingbediendes na Dingaan se stat by Umgungundlovu. Hulle kom daar aan op 3 Februarie 1838 en Retief en Dingaan sluit ǹ skriftelike ooreenkoms waarkragtens die gebied tussen die Tugela-en Umsimvubu-riviere en tussen die Drakensberge en die Indiese Oseaan deur Dingaan aan die Trekkers toegeken word in ruil vir die terugbesorging van die beeste .
Op 6 Februarie 1838, ongeveer 10h00, trakteer Dingaan vir Retief en sy geselskap in Umgungundlovu voor Retief se voorgenome vertrek terug na die Trekker-laers. Op Dingaan se bevel word Retief en die res van die Trekker-geselskap skielik deur die dansende Zoeloe-soldate verras en met knopkieries doodgeslaan. Sommige word met pale deurboor.
Nà hierdie verraderlike, lafhartige moord stuur Dingaan sy impi’s om die Trekker-laers aan te val. By Bloukrans en Boesmanspruit vermoor hulle ǹ verdere 280 blankes en 200 Kleurlingbediendes, insluitend vele vroue en kinders, en roof ongeveer 25 000 stuks vee van die Trekkers. Hierna volg aanhoudende aanvalle teen verskillende groepe Trekkers tot 14 Augustus 1838.
Dingaan se half-broer, Mpande, was byna self ǹ slagoffer van Dingaan. Dingaan het, nadat hy die Retief-geselskap laat vermoor het, aan sy hoof-induna, Ndlela kaSompisi, opdrag gegee om Mpande te vermoor omdat Mpande die enigste een van die drie half-broers (Skaka, Dingaan en Mpande) was wat seuns gehad het wat die Zoeloe-koningskap kon erf, en Dingaan hom daarom as ǹ bedreiging beskou het. Toe Ndlela hiermee sloer, het Dingaan hom laat doodmartel en Mpande het uit Zoeloeland gevlug.
Nadat die Natalse Trekkers hulp ontvang het van eers Hendrik Potgieter en Dirk Uys, en later Andries Pretorius, is Dingaan se impi’s uiteindelik op 16 Desember 1838 by Bloedrivier verslaan in die welbekende Slag van Bloedrivier.
Mpande, Dingaan se half-broer, het nà die Slag van Bloedrivier ǹ militêre verbond met die Trekkers gesluit teen Dingaan. In Januarie 1840 het ǹ Trekker-kommando van sowat 400 man onder leiding van Andries Pretorius die vegters van Mpande gehelp om Dingaan se magte aan te val. Dingaan is verslaan en het gevlug. Volgens minstens een bron is hy in die Hlatikulu-woud gedood. Pretorius het Mpande daarna as die Zoeloe-koning bevestig en terselfdertyd die suidelike deel van die Zoeloe-koninkryk as deel van die Trekker-grond verklaar.
( In ǹ private gesprek van een van ons senior lede met meneer Jacob Zuma in die tydperk voor Februarie 2010, toe hy nog toenadering gesoek het tot die Afrikanervolk (soos die destydse braaivleis met menere Steve Hofmeyer en Leon Schuster op sy uitnodiging onder andere gewys het), het hy trots vertel dat hy familie van Ndlela is, en dat die tydperk 1840 tot 1872, toe Mpande in vriendskap met die Voortrekkers oor die Zoeloe-volk regeer het, die vreedsaamste en mees vooruitstrewende tydperk in die geskiedenis van die Zoeloe-volk was. Nou, na die bevindings oor staatskaping en sy beweerde betrokkenheid by korrupsie in die wapenskandaal, is daar niks meer te sien van hierdie houding nie, en demonstreer hy sedert 2012 gereeld in die openbaar sy vyandigheid teen blankes in die algemeen en die Afrikaner in die besonder).

In 1854 het Mpande verder grond aan die Voortrekkers toegeken tussen Zoeloeland en die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hierdie grond het die Republiek van Utrecht geword. Die uitbreiding van hierdie Republiek vanaf Rorke’s Drift tot by ǹ punt op die Pongola-rivier in terme van ǹ sessie deur Mpande is in 1864 amptelik afgemerk. Hierdie sessie is deur Mpande aan die Trekkers toegestaan as teenprestasie vir die beoogde uitlewering van Cetshwayo se broer, Umtonga, aan Cetshwayo op laasgenoemde se waarborg dat hy Umtonga geen leed sou aandoen nie. (Umtonga is op daardie stadium deur Cetshwayo beskou as mededinger van Cetshwayo vir die Zoeloe-koningskap wanneer Mpande eendag sou afsterf). Umtonga het hierdie versekering van Cetshwayo nie geglo nie, en daarna in 1865 na die Natalse Kolonie gevlug.
Soos uit die feite blyk wat hierbo aangehaal word, en die verdere geskiedenis van die Afrikanervolk, wat beskikbaar is vir elkeen om na te gaan in nie-kommunistiese , betroubare geskiedenisbronne, het die voorgeslag van die hedendaagse Afrikanervolk deurgaans op beskaafde, wettige wyses grond probeer kry waar hulle hul reg op selfbeskikking kon uitoefen. Min ander volke in die wêreld, indien enige, het soveel opgeoffer vir hierdie reg en soveel mede-menslikheid en vredeliewendheid betoon aan ander inheemse volke en gemeenskappe, selfs wanneer die Afrikaner militêr in staat was om grond van ander volke of gemeenskappe te vat en hulle te onderdruk as hy sou wou.
In die tydperk vanaf Februarie 1990 het meneer FW de Klerk, ǹ voormalige vurige ondersteuner van die eertydse NP-beleid van apartheid, en sy vernaamste meelopers, onder die dekmantel van hul Afrikanerskap en die geskiedenis van die NP as die politieke volksfront van die Afrikaner, koelbloedig en doelbewus met kommunistiese- en terroriste-organisasies saamgespan vir die vernietiging van die selfbeskikking van die Afrikanervolk en ander inheemse volke soos die Tswana-, Xhosa-, Venda- en Zoeloe-volke.
Sekere ander Afrikanerleiers het in daardie tydperk voorgegee dat hulle hierdie proses sou keer “al kos dit offers soos diè van Jopie Fourie” terwyl hulle in werklikheid die weerstand teen De Klerk en sy meelopers ondergrawe het en hul persoonlike belange bevorder het. Die resultaat daarvan was die huidige kommunistiese eenheidstaat waaraan op 27 April 1994 volle beslag gegee is.
In hierdie staat word die Afrikanervolk daagliks op elke terrein van die lewe onderdruk en word sy nasionale bewustheid en diè van elke ander inheemse volk koelbloedig en in alleryl uitgekalwe en ondermyn ter voorbereiding van ǹ kunsmatige nuwe “party-nasionalisme” van die beoogde kommunistiese diktatuur in Suid –Afrika. ǹ Voorskou hiervan kon onlangs in Sjina gesien word toe daardie kommunistiese eenparty-diktatuur se “President” op ǹ reuse militêre parade van die aanwesige soldate vereis het om hul trou aan die Sjinese Kommunistiese Party te sweer.
Vir alle praktiese doeleindes is al die politieke en staatkundige vrugte van die offers van geslagte Afrikaners deur die Groot Kapitulasie van FW de Klerk en diesulkes op 27 April 1994 uitgewis.
Maar wat nou?
Soos vir Piet Retief en die ander Trekkers bykans twee eeue gelede, is die toestand in Suid-Afrika vir die Afrikanervolk ondraaglik. En net soos vir Piet Retief en Andries Pretorius van ouds sal daar van die Afrikaners in hierdie tydperk waarin ons leef, geverg word om ter wille van ons voortbestaan as ǹ vrye, Christelik-beskaafde volk te onderhandel waar nodig en te veg waar nodig vir ons internasionaal-erkende reg op selfbeskikking.
Daar is verblydende tekens dat die Westerse wêreld in die laaste paar jare wakker geskok is deur gebeure in hul eie state wat hulle noop om hul nasionale belange te beskerm soos die Afrikanervolk al sedert sy vroegste jare probeer doen. Hierdie scenario MOET dringend polities deur die Afrikanervolk benut word om sy selfbeskikking doelgerig en stap-vir-stap te herstel. Front Nasionaal het in sy geledere die integriteit, die wil, die kennis en ervaring om dit te kan doen met die ondersteuning van die Afrikanervolk en anderstalige patriotte wat selfbeskikking nastreef. Daar kan nie tyd verspil word nie…