Die Broederbond se intuimeling

BROEDERBOND/AFRIKANERBOND
Hannes Engelbrecht
Front Nasionaal SA is seker die enigste party in Suid Afrika wat in sy Reglement van Orde ingeskryf het dat lidmaatskap van enige geheime organisasie rede tot onmiddelike ontslag uit FN is. Dit is een van die seer lesse wat die Afriakner geleer het uit die tydperk voor 1994 – die ander les is dat ons nooit weer verantwoordelikheid wil neem vir enige ander etniese groep binne ‘n multikulturele party of stelsel nie.
Dat die Afrikaner Broederbond met edele bedoelings gestig is en ook wonderlike bydraes gemaak het op kulturele terrein gedurende hul beginjare is onbetwisbaar. dat die AB in later jare ‘n arrogansie by sy lede teweeggebring het, knoeiery en die Afrikaner in “sosiale vlakke” verdeel het is net so onbetwisbaar.
In Vorster en Botha se kabinette was byna net Eric Louw en die Engelssprekende John Wiley en Owen Horwood nie lede van die OB nie; byna elke regter, direkteur-generaal van Staatsdepartemente, landdros, skoolhoof, polisiebevelvoerder, NG predikant en Weermagbevelvoerder was lid van die organisasie en het ‘n ystergreep uitgeoefen op die Afrikaner in besonder en ander bevolkingsgroepe in die algemeen.
Indien ons dink dat “State Capture” deur die Guptas die ergste is wat ons nog beleef het, vergeet ons gerieflikheidshalwe van die Broederbond en sy FW de Klerks. Die enigste merkbare verskil is miskien dat die Guptas en Zumas ingestel is op selfverryking, terwyl dit by die AB oor ongebrydelde mag en beheer gegaan het saam met ekonomiese manipulasie.
Dr HF Verwoerd het wel gedurende sy ampstermyn ‘n geregtelike kommissie onder Regter DH Botha aangestel om die invloed van die Afrikanerbond, Vrymesselaars en ander geheime organisasies te bepaal, maar ongelukkig is alles in camera gehou en nooit openbaar gemaak nie.
Met die Soweto-onluste van 1976 het die Afrikanerbond verdeel in twee faksies – die “verkramptes” onder broederbond voorsitter AP Treurnicht en Carel Boshoff en die verligtes aangevuur deur ander kabinetslede en Willem de Klerk (broer van FW).
Dit is kort hierna dat verloopte verligte lede van die AB dokumente gelek het aan die joernaliste Hans Strydom en Ivor Wilkins wat gelei het tot ‘n openbare naamlys en boek oor die AB.
Vir die eerste keer kon Afrikaners lees hoe AB-lede ook hulleself verryk het soos die Guptas en Zumas. ‘n Voorbeeld is die koms van televisie na Suid Afrika waar Broeder 787, Piet Meyer (hoof van die SAUK en AB) ‘n kastige kommissie gelei het om televisie te ondersoek (met agt van die elf lede van die kommissie lede van die AB!).
Toe Gil Marcus van die ANC oorneem as voorsitter van die direksie van Absa in 1997 na ‘n termyn by die SA Reserwebank was dit ‘n beteuterde Hennie Diedericks wat moes verduidelik wat aangaan. Diedericks was HUB van beide Volkskas en Trust Bank waaruit Absa ontstaan het asook Tollgate, die Kaapse firma in tekstiel, voedsel en vervoer.
Diedericks het in 1993 “probeer selfmoord pleeg” in ‘n hotel in Gordonsbaai terwyl hy ‘n bestuurslid was van die SA Poskantoor. As HUB van Tollgate is hy saam met Julian Askin geimpliseer in ‘n diefstal van R18,9m van die Poskantoor en die SA Polisiediens het sy huis deursoek. Ten spyte van Diedericks se versoek dat die hoof van Absa, Danie Cronje, hom te hulp snel is hy “vir die wolwe gegooi”.
Die verkrampte faksie onder Treurnicht het intussen bedank uit die AB en die Konserwatiewe Party gestig. Baie “regse” lede het egter agtergebly in die AB en sy voedingsorganisasies soos die Ruiterwag, Afrikaanse Handelsintituut, FAK en Rapportryers. Dit het die deur oopgelaat vir De Klerk, sy kabaal en ‘n nes van Stellenbosch akademici om die multikulturele stelsel af te dwing in 1992.
Vandag is die Afrikanerbond se tande getrek as organisasie wat in die grap “net die jukskeiklub van Alberton beheer”, maar in sy dampkring sit steeds die De Klerk Stigting, verskeie “volksorganisasies” en partye wat verskriklik polities-korrek is (doen self die som) en inidvidue binne groot korporasies soos Steinhoff, Shoprite, Pick n Pay, Rembrandt en andere. Dit is die superrykes en die kalkligsoekers wat nou agterkom dat hulle tred verloor het met die gewone Afrikaner en water trap vir die vale. Dit is opvallend hoe hulle nou na die “White Monopoly Capital” debakel walgooi met al meer regse uitsprake. Selfs De Klerk het al ‘n ligte verskoning aangebied, Johan Rupert mik ligte houtjies, Soliforum trap ligweg oor die struikelblokke…
Die Super Afrikaners se wittebrood met die ANC is verby en met hulle mislukte maaksel van die multikulturele staat wat die net al nouer span gaan heelwat Spurs, Media24’s, Capitecs, Steinhoffs en reputasies nog sneuwel.
Ons huil nie.