Mylpale

FRONT NASIONAAL – ‘N OORSIG OOR DIE AFGELOPE 2 JAAR

Mense vra dikwels: Wat doen FN nou eintlik? Ons hou rekord van wat ons doen, sodat ons aan ons kiesers verslag kan lewer.

Front Nasionaal kyk met dankbaarheid terug oor meer as drie jaar van harde werk, baie seën, vele hoogtepunte, hier en daar terugslae en teleurstellings, maar altyd koersvas op die pad na selfbeskikking en aan die veg vir ons voortbestaan as volk.

2015
In Januarie ontmasker ons die bekende TV-akstrise, Vinette Ebrahim, se dubbele standaarde. Ebrahim het ‘n rassistiese aanval op blankes geloods op die sosiale media, totdat FN haar daaraan herinner het dat sy die dogter van ‘n apartheidsminister is wat groot baat gevind het by die vorige bedeling.

Na aanleiding van die ontheffing van Theuns Botha uit ‘n senior posisie om plek te maak vir ‘n swart kandidaat, voorspel ons dat die DA in 2015 sy ware “kleur” gaan wys.

Inderdaad voorspel ons op 21 Januarie dat Helen Zille se dae as DA leier getel is. Dit gebeur op 13 April, vier maande later.

Media 24 bevestig dat ras ‘n rol gespeel het. Ons voorspelling op 21 Januarie dat Theuns Botha se dae getel is, word waar op 3 Mei toe hy bedank uit die DA.
In Februarie maak ons ‘n enorme deurbraak toe Front Nasionaal geregistreer word as konsulterende en verteenwoordigende liggaam by die Verenigde Nasies.

Maart maand was vir ons ‘n slegte maand.

Op die 7e van die maand word Front Nasionaal se hoofblad gekaap en verdwyn dit oornag van Facebook. Ons verloor sowat 13000 lesers op die sosiale media.

Daar word ingebreek op die webtuiste van FN, sowel as op die persoonlike profiele van vier van ons leierskorps.
Ten spyte van die terugslag herstel ons vinnig genoeg om op die 25e Maart ‘n formele aansoek in te dien by die VN om die rasmotief agter plaasmoorde te ondersoek.
April was ‘n maand waarin samewerking tussen FN en verskeie ander aktiviste en organisasies gevolg het op die reeks vandalistiese aanvalle op beelde en monumente.

Die beelde van Cecil John Rhodes, koningin Victoria, Andrew Murray, Paul Kruger en verskeie ander loop deur.

Op 8 April word daar dus protesaksies hierteen gehou op Kerkplein in Pretoria, waar Sunette Bridges haarself aan die beeld van Paul Kruger vasketting, en in Adderleystraat Kaapstad, waar Johan Willemse dieselfde doen met die Jan van Riebeeckbeeld.

FN se beleid oor die beskerming van erfenis word wyd in die media gedra met radio- en tv-onderhoude op EWN, E-nuus, ANN ens.
Die vyfde maand van die jaar skop af met ‘n uitgebreide besoek van die Kanadese akademikus, skrywer en politikus, dr Paul Fromm, wat kom uitvind wat die situasie van blankes in Suid-Afrika is. FN ontvang en huisves hom.
Meimaand lewer dan ook ‘n hele paar hoogtepunte op, onder meer wanneer die eerste nasionale kongres van FN in Dunottar plaasvind.

Hannes Engelbrecht word eenparig as leier herkies en lewer ‘n sterk boodskap oor selfbeskikking. Hy sê dat nog geen liberalis of opposisieparty ons op beginsels kon aanvat nie, omdat FN se beginsels gegrondves is in die resolusies van die VN.

Ons neem met dank kennis van ‘n brief van Steve Hofmeyr waarin hy eenheid met FN uitspreek en ons verhouding teenoor mekaar as ‘n “vennootskap op dieselfde reis” bestempel.
Op die oggend voor die kongres word dit bekend gemaak dat Clive Derby-Lewis uiteindelik vrygelaat sal word na 21 jaar in die tronk. Dit het ons net meer as 13 maande gekos!
Op 20 Mei word wyd berig oor FN se herdenking van die ontploffing van die Kerkstraatbom in 1983. By hierdie geleentheid is bekende aktiviste soos Sunette Bridges, Steve Hofmeyr en Dan Roodt teenwoordig. Ten spyte van ‘n hoflike uitnodiging om daar te wees en verskoning te vra, daag Aboobaker Ismail, die bomplanter, nie op nie.
Junie lewer sy eie uitdagings op. Vir die tweede keer loop FN se leierskorps deur onder intimidasie. Na telefoniese dreigemente word daar dan ook in Junie naelskraaps ‘n plaasaanval op ons toenmalige Vrystaatse leier se plaas afgeweer. Op dieselfde aand word ‘n plofapparaat buite die huis van een van ons Kaapse leiers ontdek. Nogtans gaan ons onverpoosd voort met die taak.
In die eerste week van Junie voorspel ons dat daar in 2015 probleme gaan wees by alle universiteite. Die liberale en die media lag ons uit en verklaar dat die verwydering van die Rhodes-beeld in Kaapstad die einde van die storie gaan wees.

Teen Oktober begin universiteite sluit, is brandstigting en opstandigheid aan die orde by die meeste instansies en word eksamens uitgestel na 2016.

Te midde hiervan voorspel ons ook op 9 Junie dat die Universiteit van Stellenbosch nie veel langer Afrikaans gaan wees nie. Dit gebeur dan ook tydens ‘n Raadsvergadering van US in Oktober – 4 maande later.
Augustus lewer weer ‘n insident op waarin FN ons op die reg moet beroep. Ons ontvang naamlik ‘n videogreep waarin twee blanke mans deur lede van die SAPD van Douglasdale aangerand en seksueel gemolesteer word. Nadat FN die aangeleentheid opgeneem het, word die lede geskors hangende verdere ondersoek.
Op die 16e September val ‘n bus vol swart inwoners die Noordskool in Polokwane aan en intimideer die leerkragte en laerskoolkinders. Binne enkele ure ontmasker FN die aanstigter as ene Clifford Mohloane, ‘n werknemer van die Departement van Arbeid.
Ook Oktober word ‘n bedrywige maand met hernieude vandalisme van die Kruger-beeld op Kerkplein. FN organiseer ‘n Gedenkdiens op 10 Oktober (Krugerdag) op Kerkplein en maak ons voorneme bekend om die verkiesing van 2016 te gebruik om op wettige wyse selfbeskikking te beding binne munisipale gebiede wat ons wen.

Dit word ewe uitgebreid in die media berig as die feit dat Die Stem van Suid-Afrika op Kerkplein gesing is.
Vroeg in Oktober loop die DA LP, Deetlefs du Toit oor na FN. Hy vertrek daarna na die VSA waar hy ons belange verteenwoordig.
In dieselfde maand besoek die gevierde Duitse akademikus en skrywer, Johannes Scharf, Suid-Afrika om navorsing te doen vir ‘n boek oor plaasaanvalle en die posisie van die Afrikanervolk in die eietydse Suid-Afrika. FN ontvang hom hiervoor.
Die hoogtepunt in November is die saamtrek van die 27e by die Uniegebou waar ‘n Vryheidsmanifes aan die nasionale regering oorhandig word.

Ten einde hierdie geleentheid te organiseer word ‘n deurslaggewende samewerkingsooreenkoms gesluit tussen FN, die BAV en die AWB.
Op die 14e Desember begin ‘n 10dae lange internasionale konferensie van die World Conservative Movement – ‘n liggaam wat bestaan uit 72 partye en burgerlike organisasies uit meer as 40 lande.

Die president van die WCM is die veteraan Franse politikus, Marie le Pen. Tydens die konferensie word Lenel Cotty Wessels op die hoofbestuur van die WCM verkies terwyl Dean Dart en Daniël Lötter FN en Suid-Afrika verteenwoordig op twee van die komitees van die WCM.

2016
FN groei in 2016 met 12700 lede
Die AWB lid, Keith Conroy, beland in die warm water omdat daar vuurwapens in sy huis in Kaapstad gevind word (waarvoor hy lisensies het!) FN tree tussenbeide en help Conroy met regshulp.
FN vat hande met die TLU in ‘n projek om buitelandse finansiële steun te werf vir droogtegeteisterde boere.
Ons loods die blad: Dossier: Volksbelange met die doel om voorbeelde van swart teen wit rassisme op te teken. Binne enkele weke lê Johan Willemse klagtes van haatspraak en rassisme teen 170 oortreders! Een van hulle, Sipho Nkala, word ontslaan by Sasol.

Front Nasionaal ondersteun Afriforum Jeug in Pretoria met ‘n protesaksie teen die verandering van straatname

Dean Dart, ons toenmalige Jeugleier, word genooi om ‘n studente-protesaksie teen die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch op die Rooiplein in Stellenbosch toe te spreek.

In die tweede helfte van Februarie onthul ons die verband tussen die DA Parlementslid, Glynnis Breytenbach, en die Swazilandse miljoener, Nathan Kirsch. Kirsch het Breytenbach se regskoste gedra in ‘n arbeidsaak teen die Nasionale Vervolgingsgesag. In dieselfde periode het hy ‘n donasie van R4 miljoen aan die EFF van Julius Malema gemaak. Kirsch het ook bande met FW de Klerk se stigting.

By Wits Universiteit word ‘n veldtog getiteld “F*ck White People” toegelaat. FN lê kriminele klagte van crimen injuria, haatspraak, rassisme en aanhitsing tot volksmoord teen die oortreders wat geidentifiseer kon word, sowel as teen prof Habib, die rektor van Wits, wat die veldtog toegelaat het.

FN word genader deur ‘n groep senior landdroste en loods ‘n veldtog om die wetlikheid van die proses van verkeersboetes in die land te bevraagteken.

In Maart verskuif die fokus van rassisme na die vlaag van plaasmoorde.

Louis-John Botha van Swartwater word deur sy aanvallers lewend in ‘n waterpoel vol krokodille gegooi. Dit is egter op 14 Maart dat ons tussenbeide tree na die moord op die gesin van klein Kayla Meyer.

Met behulp van ons lede se bydraes slaag ons daarin om Kayla en haar moeder ‘n behoorlike begrafnis te gee. Die druk wat ons, in samewerking met Maroela Media (met wie ons in hierdie tyd noue bande smee) plaas op die Polisiekommissaris, lei daartoe dat ‘n ander ondersoekspan aangestel word en die moordenaars in September aangekeer word.

FN lede dra binne ‘n week nagenoeg R34000 by vir Kayla se begrafnis en gedenksteen.

Leon du Plessis van Bronkhorstspruit beland vir 3 weke in die tronk nadat hy ‘n kommentaar op Facebook gelewer het wat geinterpreteer kon word as dat hy sou reken dat gewapende verset teen die swart meerderheidsregering ‘n uitweg is.

In die derde week van Maart hou ons ‘n suksesvolle Wes-Kaapse Provinsiale Kongres, gevolg deur ‘n Gautengse Kongres 5 dae later.
Maartmaand word afgesluit met ‘n insameling van voorrade, kos en klere vir die winter, wat onder verarmde volksgenote by Kleinakker naby Kaapstad versprei word.

In die tweede week van April stuur FN ‘n sterk bewoorde protesskrif aan minister Michael Masutha waarin ons beswaar maak teen sy weiering om Janusz Walus vry te laat. Dit lei tot ‘n warm TV debat waaraan ons deelneem en waarin die SAKP uiteindelik erken dat hulle houding teenoor Walus en Clive Derby-Lewis uit ‘n wraakmotief spruit

Mei is ‘n bedrywige maand. FN teken protes aan teen die Raad van die Universiteit van Pretoria se besluit om Engels as enigste onderrigtaal in te voer. Die besluit word nietemin in November deurgevoer.

FN neem leiding en lê ‘n klag teen die Wes-Kaapse MEC van Behuising oor die gedwonge uitsetting van mense uit staatshuise by Sanddrift. Die proses word daarmee tydelik gestuit. Nogtans word die omstrede Grondonteieningswet in dieselfde week deur die Parlement gevoer.

In Meimaand word ook ‘n klip in die pad van die Oos-Kaapse Premier gerol toe FN ons lede mobiliseer om beswaar te maak teen die beoogde naamsveranderinge van Port Elizabeth en Grahamstad.

Die laaste optrede in Mei is ‘n brief aan die Britse Premier, David Cameron, oor die deportasie van Eve Woods – ‘n gebore Suid-Afrikaner wat op 4 jarige ouderdom na die VK verhuis het en 53 jaar later kennis ontvang om terug te keer na SA.

Ons beklemtoon die gevaarlike toestande waaronder blankes in hierdie land leef. Die kantoor van die Premier neem kennis en die uitsettingsbevel teen mevrou Woods word teruggetrek.

In Julie verskyn die eerste uitgawe van ons aanlynkoerant “Nuus van die Front”, wat per epos versend is aan meer as 12000 lesers.
Pieter Chiolé, voorheen van die Konserwatiewe Party, sluit by ons Inligtingspan aan en begin om gereelde bydraes vir FN te skryf.

Voor die einde van Augustus lê FN ‘n klag van haatspraak, rassisme en aanstigting tot geweld teen blankes teen Julius Malema van die EFF.
FN stuur ‘n boodskap van voorspoedwense aan Donald Trump met die oog op die komende Amerikaanse verkiesing en ontvang ‘n vriendelike ontvangserkenning van sy veldtogbestuurder daarvoor

In September klim ons reikwydte meteens weer die hoogte in en word FN opnuut in die internasionale media vermeld na Hannes Engelbrecht se persverklaring waarin hy sê dat ons hoogstens 5 jaar oor het om te druk vir selfbeskikking. Daarna sal ons, vanweë emigrasie en bevolkskrimping, nie meer ‘n politieke faktor wees nie

Oktobermaand: Front Nasionaal nader die VF+, Wes Kaap Aksieforum, Rooi Oktober van Sunette Bridges en die Kaapse Party met die versoek om hande te vat in ‘n protesmars na die Parlement op 10 Oktober.

Hier word ‘n memorandum aan Dan Plato oorhandig met ‘n hele aantal eise en voorstelle oor hoe ons boere beter beveilig en ondersteun kan word. Die gevierde skrywer, Cuan Elgin, is die geleentheidspreker hier. Dit is ‘n uiters suksesvolle saamtrek deur die middestad van Kaapstad.

Rooi linte met die name van die slagoffers van plaasmoorde word aan die hekke van die Parlementskompleks vasgebind en kopieë van die memorandum word per hand oorhandig aan ‘n aantal Skandinawiese joernaliste wat teenwoordig is.
Twee weke later is FN opnuut deel van die protesaksie op Stellenbosch om die behoud van Afrikaans by Maties

November was waarskynlik ons bedrywigste maand nog!
FN eis dat die EFF gedagvaar word vir die skade wat aangerig is tydens hulle protesaksie op Kerkplein in Pretoria. Ons is ook die eerste nuusforum wat foto’s plaas van die poging om die standbeeld van Paul Kruger te verbrand.
Ons woon die begrafnis van Clive Derby-Lewis in Pretoria by en sluit daarmee ‘n hartseer; dog triomfantelike hoofstuk, in ons party se geskiedenis af.
Daar word ook ‘n eis gestel dat die DA leier, Mmusi Maimane, verduidelik wat sy bedoeling was met ‘n twiet waarin hy die steniging van die twee aangeklaagdes in die “Doodskis-saak” voorstel. Maimane se woordvoerder bestempel die voorval as “onbenullig”
Dean Dart konfronteer Helen Zille in Stellenbosch en kry van haar ‘n erkenning dat die DA reeds in gesprek is met die ANC om samewerking in 2019!
Front Nasionaal rig ‘n direkte skrywe aan die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, oor die swak stelsel waarvolgens maatskaplike toelae betaal word en wat lei daartoe dat ons mense aan die kortste end trek. Voorstelle oor aanpassings in hierdie stelsel word gemaak.
En in November loods ons Volksteun.

Desember fokus ons voluit op blanke armoede.
Die gedagte om oor die Kersseisoen uit te reik na verarmde volksgenote het van meet af aan vlerke gekry en werklike seën ervaar. Binne bestek van 4 dae het ons 74 afsetpunte landswyd gevestig. Hiervandaan is insameling van voedsel, klere, skoolbenodigdhede, speelgoed, meubels en vele meer gekoördineer. Hiervandaan is die hand uitgereik na letterlik duisende mense landswyd wat in toestande van erge verarming leef.

Enkele voorbeelde van wat VOLKSTEUN vermag het tussen 1 Desember en 25 Desember:
Net onder die 6 ton voorraad is landswyd ingesamel en versprei.
In Bloemfontein het iemand aangebied om ‘n behoeftige seun se skoolfonds en skoolbenodigdhede vir die jaar te voorsien.
In Vredefort is ‘n huis vir 2 bejaardes gevind
In Kaapstad is die totale inhoud van ‘n huis geskenk.
Werk is gekry vir 6 volksgenote wat werkloos gesit het
By Kleinakker is mediese praktisyns ontplooi om te help met basiese gesondheidsorg
In Durban het iemand vir ‘n jaar lank ‘n gesin onder sy vlerk geneem om hulle weer op die voete te help
Die boeregemeenskap van Sannieshof het bakkievragte kos afgelewer.
In Bloemfontein is behuising gevind vir ‘n enkelmoeder met twee klein kinders
In Brakpan is ‘n kersete gehou vir bejaardes wat swaarkry.
Pretoria Noord het ‘n kersboom met geskenke aangebied vir kinders van ons volk wat nie die luukse van ‘n geskenkie ken nie.
Aan die Natalse Suidkus is uitgereik met voedsel en klere na ‘n tehuis waar 119 blanke bejaardes onder treurige omstandighede leef.
Ons kon daarin slaag om die Salvation Army te stop in ‘n poging om ‘n sentrum te sluit waar meer as 20 gesinne leef en verhoed dat hulle op straat beland.

2017
Die eerste vyf maande van die jaar was ‘n baie bedrywige periode.
In Januarie krap ons die hele bedrogspul rondom die geldinsameling vir ‘n beoogde besoek van Steve Hofmeyr aan president Trump oop. Dit het geblyk ‘n kwaadwillige misbruik van Hofmeyr se openbare profiel te wees met die doel van winsbejag
Februarie 2017 is die maand waarin ons wys op die gevaar van die beoogde nuwe grondhervormingswet en daaroor ‘n ernstige beswaar aanteken binne die gegewe tydperk.
In Maart rig ons ‘n brief aan die Withuis om president Trump te wys op ‘n CIA verslag, waaraan sy voorganger hom nie gesteur het nie, oor die invloed van onbeheerste immigrasie uit Afrika na ons land en hoe dit die lewens van blanke boere bedreig. Ons wys ook op die geskiedenis van gruwelike vergrype in ANC strafkampe.

25 Maart hou ons Nasionale Kongres in die Paarl en vind ‘n herstrukturering plaas met nuwe bestuurslede. Ons loods ook die “Boikot Spur” veldtog na ‘n rasse-insident waar ‘n blanke man by Spur verban word, terwyl ‘n swart vrou aangeprys word vir haar rassistiese optrede.

Die boikot bring Spur op sy knieë, tot so ‘n mate dat die hoofbaas en stigter uiteindelik al sy aandele verkoop en onttrek.
In April van hierdie jaar word Volksteun selfstandig en word ‘n eie bestuur gekies. Binne enkele weke word drie gebiede bekom (God se Grond naby Rayton, Pit se Plek by Pretoria en Jericho naby Eloff) waar hawelose volksgenote gehuisves kan word en vaardigheidsopleiding kan ondergaan.

Steeds word meer koördineerders aangestel en noodleniging gaan voort.
In Mei lê ons klagtes by die Pers Ombudsman teen ANN7, Media 24 en eNCA vir subjektiewe beriggewing oor die Coligny geweld en lê ons ook ‘n klag teen die ANC Premier van Noordwes by die Mensregtekommissie vir aanstigting tot geweld teen blankes in Coligny na sy uitsprake op die begrafnis van die 16jarige swart seun wat dood is en die gevolglike klagtes teen twee boere.

Ons publiseer ook die uitspraak van die hof in die borgaansoek waarin die hof bevind dat die voorval en die plundery, geweld en brandstigting nie direkte verband hou nie.

Ons studenteleier, Dean Dart, maak opslae tot in die buiteland deurdat hy die dubbele en subjektiewe standaarde van die Universiteit van Stellenbosch oopvlek deur sy betrokkenheid by die opsit van plakkate, wat as “Nazi-agtig” bestempel is.

Dit veroorsaak ‘n anti-wit lawaai van die grootkoppe by Maties en bewys dat hulle rassisme teen blankes verdra en goedkeur, maar rassisme teen swartes gebruik vir hulle liberale agenda van transformasie.