Godsdiens en vroue in nood

PLAASMOORDE EN RASSISME: CATHARINA ALLEGONDE VAN LIER en andere se teruggryping na godsdiens – ‘n les vir vandag.
Hannes Engelbrecht
In tye van nood is daar ‘n noodwendige teruggryping na godsdiens, net soos ons tans weer beleef in Suid Afrika. Regdeur, van Angus Buchan tot die Israelvisie soek mense na kitsoplossings vir die nood waaronder die volk verkeer. Lekepredikers en lekkergeloof-kerke gedy.
Met al sy onaangenaamhede, stryerye en kerkisme, is so ‘n debat nie noodwendig sleg nie. Dit bring ook ‘n verinneliking van die geloofslewe mee, wat weer oorvloei in moraliteit, etiek, reg en geregtigheid wat vestig in die volkslewe, ongeag of dit be,agtig word as Staatskerk, nasionale embleme en simbole of eng interpretasies.
Interessant is die rol wat vroue in sulke situasies speel. In byna alle gevalle in ons geskiedenis word vroue se interpretasies teruggevoer tot Hooglied-metafore en ‘n soort bruidslied tussen God en die kerk/volk (Andries Raath).
Delf ons dieper in Raath se teorie en gaan kyk na ons eie volksgeskiedenis en die invloede van ‘n noodsituasie, kom ons agter dat daar wel baie waarheid daarin steek. Catharina Allegonde van Lier, Susanna Smit (Erasmus Smit se eggenote, gebore 1799 as suster van Trekleier Gerrit Maritz) en Hendrina Cecilia Kruger se dagboeke van twee eeue gelede gee ons ‘n blik op hierdie verinniging in die Voortrekkerlewe, asook die struwelinge wat daarmee gepaard gaan, behalwe dat dit nou ook waardevolle geskiedenisstukke vir ons volk geword het.
Vanaf 1750 het die trekboere langs die Roggeveldberge opgetrek na die Nieuweveldsberge en die Sneeuberge en ook die eerste keer in aanraking gekom met swart stamme wat vanaf die Kongo-gebied suidwaarts begin trek het, ruim ‘n eeu na die volksplanting van Van Riebeeck. Teen 1754 het veediefstal en plundery wyd voorgekom. In die distrik Graaff Reinet alleen het boere tussen Julie 1786 en Desember 1788 byna 100 000 rijksdaalders skade gely, 99 perde, 107 veewagters (waaronder net sewe slawe) is vermoor, 6299 beeste en 17 970 stuks kleinvee soos skape is gesteel.
Vanselfsprekend was die boerevroue deel van hierdie brutale, barbaarse tyd. Hendrina Cecilia Kruger (gebore 1744) was die eerste om ‘n barbaarse “plaasmoord” op die egpaar Teutman in 1765 te beskryf. Johanna Duminy vind weer haar sielerus in godsdiens, net soos Hester Maria van Zyl van Cradock (gebore Van den Heever 1790) en Anna Remmerta Botha (gebore Bester 1808).
Hendrina Cecilia Kruger, die trekboervrou, skryf in 1765 aandoenlik:
“My hare is nat van dou van die nag
ek klop aan U deur
my bruid en het jy my nie verwag
ek staan hier buite en treur”.
Ook die pioniersvrou Hester Venter (gedoop 1750) skryf breedvoerig oor die situasie en die teruggryping na geloof as enigste redding.
Maar dit is veral daardie onbesonge heldin, die jonge CATHARINA ALLEMONDE VAN LIER, nou grootliks vergete in ons geskiedenis wat destyds so groot indruk maak met haar skrywery dat een van haar digwerke selfs deur die Hervormde Kerk in Suid Afrika en Nederland opgeneem word as Gesang 28 in die kerklike sangbundel (byna ongehoord in die destydse patriargale Nederlandse kerkgenootskappe!):
“Ons harte is verheug dat God
Beskikker van ons deel en lot
Ons lewe in Sy hande hou
Hom kan ons alles toevertrou”.
“Hy wat sy eie weg wil gaan
sien dwaallig soms vir sterre aan
en as die skynsel hom bekoor
dan dwaal hy van die regte spoor”.
‘n Eeu en ‘n half later in 1934 sou Conradie skryf oor Gesang 28 (wat baie deur die Voortrekkers en tydens die Vryheidsoorloe gesing is): Hierdie lied van Catharina bevredig uit ‘n letterkundige sowel as godsdienstige oogpunt wat ander Gesange nie kan doen nie – dit het in donker dae die moed van die Afrikaner verlewendig, verslae harte opgebeur en in die verafrikaanse vorm kan ons dit nie meer ons eie maak as wat dit reeds is nie”.
Catharina Allegonde van Lier was ‘n mistieke jong vrou, suster van ‘n Hervormde predikant in Assen op 17 Maart 1768. Sy was inderdaad ‘n ywerige skryfster, maar ook ‘n teringlyer en in die geheim verlief op die Hervormde predikant Johannes J Kircherer. Sy is gewild by die jong Afrikanergemeenskap in die Kaap, maar sterf op die ouderdom van 33 in September 1801 aan tering. Haar geheime liefde, Dominee Kircherer publiseer haar geskrifte as “Dagboek” en “Gemeenzame Brieve en Overdenkening”.
By Front Nasionaal verstaan ons dat die Nederduits Gereformeerde Kerk se samesprekings met Malema en sy EFF, die Gereformeerde Kerk se oorweging van Engels as voertaal, die Israelvisie se aanvalle op christene, en die bakleiery oor Buchan in die onsekere tye waarin ons leef by sommige mense allerhande emosies wakker maak en lei tot bakleiery, snedigheid, slegmakery op ‘n manier wat geloof nie waardig is nie. Dit was nog altyd so.
Maar ons standpunt is ook: hou dit hoflik, ordentlik, vriendelik en veral met pieteit.