Laurens van der Post – Afrikaner kulkuns in die Britse monargie

GESKIEDENIS: LAURENS VAN DER POST
Dalene Nelson
LAURENS JAN VAN DER POST, gebore op 13 Desember 1906 in Phillipolis in die Vrystaat, was ‘n enigma – ‘n Afrikaner wat ‘n onnatuurlike invloed binne die Britse koningshuis gehad het; ‘n kenner van die Boesman/Khoi wat as ‘n leek ontbloot is; ‘n oorlogsveteraan wat blatant gelieg het oor sy prestasies.
Laurens is gebore as seun van Christiaan en Lammie van der Post van Phillipolis en matrikuleer aan Grey Kollege in Bloemfontein. Hy was getroud met Marjorie Edith Wendt. In sy leeftyd sou hy ontpop as skrywer, oorlogsveteraan, vriend en mentor van Prins Charles en peetpa vir Prins William (Charles en Diana se seun).
In 1925 was hy joernalis by die Natal Advertiser waar sy grootste bydrae was om oor sy eie prestasies as provinsiale hokkiespeler vir Natal te skryf. Hierna publiseer hy ‘n tydskrif Voorslag, saam met Roy Campbell, wat net drie uitgawes oorleef. In 1929 versit hy na die Cape Times waar hy koppe stamp met genl Barry Hertzog oor stemreg vir swartes.
Gedurende 1931 emigreer hy na Engeland en drie jaar later publiseer hy die boek “Called in a province”. Met die geldelike hulp van die skrywer Lilian Bowes Lyon koop hy Colley Farm naby Tetbury in Gloucester as suiwelboer. Gedurende 1936 besoek hy Suid Afrika vyf keer (waarskynlik met die doel om Ingaret Giffard te sien met wie hy ‘n verhouding het). Teen 1939 is hy bekend as ‘n strawwe drinker.
Met die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog word hy as kaptein gepos na Oos Afrika (Januarie 1941). In Mei kry hy malaria en word na Palestina gestuur om te herstel. In 1942 word hy, volgens homself, aanvoerder van Special Mission 43 in Indonesie, waar hy op 20 April 1942 oorgee aan die Japanese magte. Hy word aangehou in die kampe by Sukabumi en Bandung.
Laurens word spesiale attache in Indonesie en daarna militere saakgelastigde in Batavie.
In 1947 werk hy weer as joernalis by die Natal daily News, maar met die Nasionale Party se oorwinning by die stembus in 1948 vertrek hy weer terug Engeland toe. In Mei 1949 word hy deel van die Koloniale Ontwikkelingskorporasie in Malawi (Nyassaland) en skei van Marjorie. In Oktober van daardie jaar trou hy met Ingaret Giffard, nadat hy ‘n kort rukkie verloof was aan die 17-jarige Fleur Kohler-Baker. Intussen word sy boeke oor Apartheid, die Boesman en Nyassaland opgeraap in Engeland en hy smee hegte bande met Carl Jung.
Hy en Ingaret vestig in Aldeburgh, Suffolk waar invloedryke vriende hulle voorstel aan Prins Charles. Gedurende 1977 neem hy Charles op ‘n safari na Kenia en in dieselfde jaar reel hy en Ian Player die eerste Wilderneskongres in Johannesburg. Gedurende 1979 word sy buurvrou Margaret Thatcher verkies as Eerste Minister van Brittanje en word hy haar raadgewer oor suidelike Afrika, veral belas met Rhodesie. Met Rhodesie se oorgawe ontvang hy ‘n ridderskap van die Britse monarg.
In die tagtigerjare het hy ‘n verhouding met Frances Baruch. Op 16 Desember 1996 blaas hy sy laaste asem uit met die Afrikaanse woorde “Die sterre…”. Margaret Thatcher en Chief Mangosuthu Buthelezi sowel as Prins Charles woon sy begrafnis by. Sy as word geberg by die begraafplaas in Phillipolis.
Na sy dood het verskeie mense hom ontbloot as ‘n leuenaar en onnatuurlike invloed op Prins Charles (vir wie hy ondermeer geleer het “om met die blomme te praat”). Dit word onthul dat hy in 1952 ‘n kind gehad het by die 14-jarige Evadne Baker, ‘n student aan die Royal Ballet School. In die “Teller of Many Tales” noem Jones hom ‘n “kompulsiewe leuenaar en fantasis”.
Jones en Laurens se dogter, Lucia, is hierna in ‘n bittere twis. Jones maak bekend dat hy toegang het tot al Laurens van der Post se argiewe en korrespondensie deur middel van ‘n sekere Mev Chrichton-Miller van die Financial Times of London. Hierdeur is dit duidelik dat Laurens se pa nie ‘n invloedryke man in die Suid Afrikaanse politiek was nie, maar net ‘n plattelandse prokureur in Phillipolis. Sy beweringe dat hy die Boesmantekeninge in die Tsodilo Koppies ontdek het is insgelyks ‘n leuen. Net so is sy navorsing oor die Boesman plagiaat van vroeere navorsing van die Bleek-familie van Suid Afrika.
Sy weldoener wat vir hom die melkplaas in Engeland aangeskaf het, Lilian Bowes Lyon, was een van sy talle minnaresse en ook die niggie van Koningin Elizabeth.
Sy weergawe van die gebeure en sy ontberinge in die Japanese kamp tydens die Tweede Wereldoorlog is ook weerle as leuens deur talle van sy mede-aangehoudenes.
Cari Mostert van Oos Transvaal, die buite-egtelike dogter van die destydse 14-jarige Bonny Kohler-Baker, het geskok opgemerk dat sy opgegroei het met die idee dat haar ouma haar ma is en haar ma haar suster. Sy is eers op die ouderdom van 12 ingelig dat Laurens haar pa is en sy het hom in Los Angeles ontmoet. Hierna het sy sowat 50 onbeantwoorde briewe aan hom gerig en hom eenkeer op Jan Smuts Lughawe gekonfronteer toe hy Suid Afrika besoek het.
Wat sy invloed oor Prins Charles betref: Charles het in die middel-70’s psigoanalistiese behandeling by Ingaret van der Post en ene Dr Alan McGlaskan ondergaan – dieselfde as Prinses Diana wat ook toe sielkundige probleme gehad het. Selfs sommige van hul toesprake is deur Ingaret en Laurens geskryf.
Van der Post het ook ‘n geweldige haat vir Nelson Mandela gehad en het verskeie ontmoetings gereel tussen Buthelezi, Margaret Thatcher en Prins Charles.
Miskien word Sir Laurens van der Post se lewe die beste opgesom deur ‘n mediese dokter wat na die oorsake van laurens se dood uitgevra is: ”He was weary of sustaining so many lies.”