Selfbeskikking en emigrasie

Hannes Engelbrecht
Daar was al meermale ‘n debat of die emigrerende Afrikaners van Australie, Nieu Zeeland, Brittanje of Nederland nog ‘n rol te speel het in ons politieke debat oor selfbeskikking in Suid Afrika. As ‘n nuwe immigrant verwag enige land lojaliteit en dat jy die taal en kultuur van daardie land sal aanneem en respekteer. Afrikaners het ondervinding van Rhodesiers, Angolese en Mosambiekse Portugese en Belge uit die Kongo. “When-we’s” is hulle spottenderwys genoem al het ons net die grootste respek vir hulle gehad.
Dit is noodwendig so dat ‘n emigrant voeling verloor met sy land van herkoms as die werklikheid nie rondom hom of haar is nie. Ironies genoeg was dit juis die eerste groot diaspora van Afrikaners na Argentinie wat reeds op 17 Desember 1985 die eerste waarskuwing aan emigrerende Afrikaners gerig het: “Julle gaan nie meer Afrikaners wees nie”.
Uit Comodoro Rivadavia in Argentinie skryf Gerardo Myburg, erekonsul van Suid Afrika: “Ons praat nog Afrikaans, boer met skape, behoort aan die NG Kerk en eet tradisionele kos, maar dis al. Niemand wil teruggaan Suid Afrika toe nie”.
Conrado Visser, ‘n boer, skryf dat hulle gladnie die rasseprobleme van Suid Afrika verstaan nie want hulle was oor geslagte nie deel daarvan nie. Die Vissers, Doltens, Behr en De Merillad families was van die eerstes om in April 1902 na Argentinie te emigreer, en hulle ervaring dra dus baie gewig.
Vandag is daar steeds familiename in Comodoro Rivadavia en Sarmiento soos Myburg, Trichardt, Visser, de Bruyn, Eloff, Botha, Norval, Vorster, Dekker, Grimbeeck, Blackie, Venter, Lubbe en Kruger, maar hulle weet lankal niks meer van ons geskiedenis, leefwyse, denkwyses of vryheidstrewes nie. Hulle diaspora is nouliks meer ‘n aantekening in geskiedenisboeke.
Dit is die realiteit van emigrasie. As jy vandag op die vliegtuig na Perth of Heathrow klim moet jy besef dis ‘n nuwe era. Niemand wat agterbly gaan jou verkwalik nie, maar niemand gaan ook veel waarde aan jou opinie heg in Suid Afrika nie. Vir ‘n aantal jare is jy nog ‘n “kuriositeit” van “my familie oorsee” maar daarna is jy en veral jou kinders maar net ‘n doodgewone burger van ‘n ander land. Hartseer en nostalgie sal daar altyd wees, maar dis ongelukkig waar dit stop. Jy kan nie op die lange duur ‘n Afrikaner bly in ‘n ander land nie, slegs iemand wat toevallig Afrikaans kan praat en nou-en-dan braai.
Dit is daarom so belangrik dat ons wel selfbeskikking van die grond af kry, want net in Suid Afrika kan jy werklik ‘n Afrikaner wees. Dit is so jammer dat 1994 ons in hierdie posisie geplaas het, en wat nog jammerder is, is dat onsself dit nie kan verstaan nie.