Swart Desember se haai-aanvalle in 1957

GESKIEDENIS: SWART DESEMBER EN DIE DOLFYNE
Dalene Nelson
“Swart Desember” in Suid Afrika se geskiedenis verwys na die tydperk 18 Desember 1957 tot 15 April 1958 toe nege haai-aanvalle langs die Natalse Suidkus aangemeld is.
Die aanvalle is, volgens ‘n kommissie van ondersoek, veroorsaak deur veral drie gebeure: Japanese walvisskepe in die gebied, vloede wat veroorsaak het dat riviere vee in die Indiese oseaan ingespoel het, en oordontwikkeling wat ‘n toestroming van toesriste teweeggebring het.
Robert Wherley (16) was die eerste ongeval terwyl hy naby Karridene branderplank gery het op 18 Desember. Sy linkerbeen is by die knie afgebyt, terwyl ‘n deel van sy bobeen ook verwyder moes word.
Allan Green (15) is twee dae later by Uvongo aangeval terwyl hy geswem het en is dood aan sy beserings.
Vernon James Berry (23) volg op 23 Desember in Margate terwyl hy swem. Sy regterarm is erg beskadig, sy linkerhand afgebyt by die pols en hy het ook bytmerke aan sy boude, maag en regterbeeen gehad. Hy sterf kort daarna.
Donald Webster (20) ontkom ternouernood aan die dood met beserings aan sy nek en kop by Port Edward op 26 Desember 1957.
Die skooldogter Julia Painting (14) oorleef ‘n aanval in Margate op 30 Desember, maar verloor haar linkerarm en doen lelike bytwonde op aan haar lyf en bobeen.
Derryck Garth Prinsloo (42) sterf op 4 Januarie 1958 by Scottburgh toe sy hele onderlyf afgebyt word.
Nicolaas Badenhorst (29) sterf na ‘n aanval by Port Edward op die 3de waarin sy hele linkerarm onder andere afgebyt is.
Fay Jones Bester (28) sterf in ‘n haai-aanval op die 5de by Uvongo terwyl sy branderplank ry.
In ‘n onbevestigde geval sterf ‘n onbekende Zoeloeman toe hy aangeval word by die mond van die Makakaranarivier terwyl hy visvang.
Die Stadsraad van Durban rig inderhaas kru haainette op met houtpale, terwyl die SA Vloot verskeie haaie onderwater met plofstof opblaas – wat weer meer haaie na die gebied lok wat aan die karkasse kom vreet.
Swart Desember 1957 lei tot die stigting van die Natal Sharks Board in 1962 met die opdrag om 320km langs die Suidkus te beveilig teen haaie.
Wat min Suid Afrikaners weet is dat ‘n latere dokumentere televisieprogram “Black December” die inspirasie was vir Peter Benchley se “Jaws” wat fliekgangers aan hulle sroele laat vasklou het in 1975.
** Elke gru-verhaal het seker ‘n teenpool. Dit was dan ook gepas dat dit weer ‘n Suid Afrikaanse storie was:
Gedurende Junie 1971 (andere noem September 1972) is Yvonne Vladislavich aan boord ‘n seiljag in die Indiese Oseaan saam met sewe ander. Na ‘n klaarblyklike ontploffing sink die jag om ongeveer 03:30 en Yvonne begin swem land toe.
Na ongeveer vyf ure in die water merk sy haaivinne en weet dat haar beseerde voet die haaie sal aanlok. Skielik verskyn drie dolfyne en een stamp die naaste haai met sy snoet.
Hierna swem een dolfyn onder haar en die ander twee weerskante van haar. Partykeer raak sy bewusteloos van inspanning, maar na byna twaalf ure kan sy op ‘n boei klouter – 67km van waar die seiljag gesink het, waarvandaan sy opgepik word deur ‘n reddingsboot.
* Ek het die verhaal probeer bevestig by Yvonne Vladislavich laasweek, veral rondom die datum, maar sy het nie boodskappe beantwoord nie.