Votti Somayya, die onblusbare gees

GESKIEDENIS: DIE ONGEHOORSAME “COOLIE MAID”
Dalene Nelson
Sedert die tagtigerjare is daar die gebruik van Indiese akademici en veral politici om die Indiergeskiedenis in Suid Afrika en masse te koppel aan die “Struggle against Apartheid”. In die proses is Gandhi al opgekommandeer ten spyte van sy rassisme teenoor swartes en ook die onblusbare Votti Somayya, om Maharaj, Gupta, Shaik, Gordhan, Aboobaker Ishmael en Ahmed Timol se terroriste- en korrupsiedade te vergoeilik.
VOTTI VEERAMAH SOMAYYA arriveer in Mei 1890 vanuit Narasannapetta naby Madras, in die Britse Natal-kolonie as arbeider. Volgens alle hofverslae is die 18-jarige Votti buitengewoon mooi, skraal gebou en sowat 1,5m lank. Een amptelike dokument beskryf haar selfs as “a woman of prepossessing appearance”.
Ongetroud, dring sy daarop aan om saam met Govindsamy Naik en Bappu Ponnusami, wat sy op die skip ontmoet het, uitgeplaas te word na die suikerplaas van Gavin Caldwell van Ifafa. In November 1890 pleeg Naik selfmoord weens depressie. Votti trek in by Bappu wat van Trichinopoli in Ganjam kom. Votti is nou ‘n verbete teenstaander van die Britse kolonialisme en teenwoordigheid in Natal.
Caldwell vra die aanklaer dat sy uitgeplaas moet word na ‘n groter plantasie in Victoria weens “wangedrag” omdat sy nie met Bappu wil trou nie. Die aanklaer weier op grond daarvan dat die gemeenskap haar karakter en optrede goed ken”.
In Maart 1892 is Caldwell weer by die aanklaer. Votti getuig: “Ek wil nie met Bappu trou nie. Ek wil ook nie vir ‘n Indier werk nie”. Haar pleidooie help niks. Die aanklaer plaas haar uit na Nulliah se suikerrietplaas. Nulliah is ‘n skatryk Indier met verskeie sakebelange, ‘n agitator teen Indierarbeid, maar het self ‘n hele aantal van die ingevoerde Indiers in diens as kontrakwerkers.
Votti Somayya, nou 22 jaar oud, besluit om die hele Britse regstelsel en Brits-Natalse regering aan te vat. Deur middel van haar pro-Boer prokureur Michael Gallwey (wat onder andere die gronddispuut tussen die Zoeloes en Transvaal hanteer) le sy op 6 Januarie ‘n klag by landdros Dillon in Durban; op 7 Februarie ‘n klag by landdros Barter in Pietermaritzburg; en in April 1893 ‘n klag by die administrateur van Natal, Francis Haden.
Sy noem ondermeer dat Nulliah vas van plan is om haar deel te maak van sy harem vroue en dat sy weier. Hy maak ook gereeld seksuele opmerkings teenoor haar. Omdat sy sy toenadering weier word sy na die stalle verplaas waar sy die perde moet oppas. Vir haar moeite vonnis die landdros van Durban haar tot gevangenisstraf omdat sy nie haar britse “pas” dra nie: op 6 Julie tot 7 dae; op 13 Julie tot 25 dae; op 9 Augustus tot 15 dae; op 23 Augustus tot 30 dae.
“Julle bring my in die hof en vra of ek teruggaan na Nulliah toe en as ek se ‘nee’ dan vonnis julle my weer. Julle kan my keel afsny, ek gaan nie terug na daardie man nie. Ek het gekom om te werk, nie om ‘n vrou te wees vir Nulliah nie. Julle kan my uitplaas na ‘n respektabele wit gesin toe”.
Michael Gallwey skryf aan die Administrateur namens sy klient dat Votti ‘n buitengewoon mooi vrou is en dat Charlie Nulliah se drang en drif hom dryf om haar te intimideer. Gedurende die kort rukkie wat sy buite die tronk was het sy veertien dae lank vir landdros Barter van Maritzburg gewerk en hy en sy gesin is baie tevrede met haar.
Barter was die skrywer van die boek “The dorp and the veld”, ‘n voormalige kommissaris van onderwys en boer in Karkloof waar hy veral perde geteel het. As landdros was hy van 1867 in Verulam en daarna van 1880 tot 1896 die landdros in Pietermaritzburg (die “Boeredorp”.
Staatsekretaris Bird antwoord op 1 Mei: “Ek ken Charlie Nulliah al ‘n aantal jare persoonlik. Hy is ‘n eerlike en opregte man en verskeie eiendomme is in sy naam geregistreer. Hy het ook verskeie gekontrakteerde Indiers in diens”.
Landdros Barter se toetrede maak die Britte behoorlik gatvol en om 31 Mei kanselleer hulle Votti Somayya se arbeiderskontrak op voorwaarde dat sy ‘n ander werkgewer kry vir die res van die vyf jaar. Barter kry een: op 1 Julie laat weet hy smalend dat Votti kan werk by Deane Anthony in sy restaurant tot 27 Mei 1895 as haar kontrak verby is.
Vir die volgende vyf jaar verloop alles seepglad vir Votti en sy trou selfs met Rangasami Dramodrapilla. In Junie 1898 le sy egter ‘n klag van aanranding teen haar man en op 23 Augustus 1899 word hy gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf nadat hy haar met ‘n mes gegooi het.
In Maart 1900 besluit Votti weer om die Britse reg in Natal te toets: sy dagvaar Rangasami vir ‘n egskeiding en ‘n gelykop verdeling van die boedel (iets wat ongehoord was in die Indiese kultuur). Die 28-jarige Votti wen die hofsaak.
Die Vryheidsoorlog is nou vier maande aan die gang. Votti is nerens op ‘n repatriasieprogram na Indie nie. Geen huweliks- of sterfte besonderhede van Votti word verder in Natal opgeteken nie. Iewers raak Votti weg en vlieg onder die radar.
Dit is byna seker dat Votti na Transvaal of die Kaap gegaan het. Teen 1904 het die Kaapse Indiers gegroei van 1 700 na 10 712 en in Transvaal van 0 na 10 948 volgens die Kamer van Koophandel.
In Potchefstroom is die storie vertel van die geheimsinnige “Lotti” wat vir die Boere gespioeneer het en rapporte afgelewer het onder die voorwendsel dat sy hulle klere gaan herstel. Sy het hulle ook meermale getrakteer op skaapkerrie. Wie Lotti was en waar sy vandaan gekom het, weet niemand en niemand sal seker ooit weet nie.
Maar dit klink soos iets wat Votti Somayya sou doen.